viii - Besonderhede oor Gedigte

viii - Besonderhede oor Gedigte #

Vroegste Gedigte #

Die vroegste gedigte is vanaf Holland gestuur en het sedert 1913 in Die Brandwag verskyn. A.D. Wassenaar meld in die lewenskets van sy broer Theo (Theodorus Wassenaar, privaat gepubliseer in 1991), dat laasgenoemde en A.D. Keet goed bevriend was gedurende hul studentejare in Amsterdam van 1910 tot 1918. Hulle het die meeste van hul eerste gediggies in Afrikaans gepubliseer in Propria Cures, studenteblad van die Amsterdamse Universiteit. Navorsing deur A.D. Wassenaar het 'n stuk of 20 van hul gedigte wat gedurende 1917 en 1918 daarin verskyn het, aan die lig gebring.

Wat waarskynlik 'n groot invloed op sy broer Theo gehad het en wat gelei het tot die ontdekking van sy skrywerstalent (skryf A.D.W.), was Theo se ontmoeting en sy voortdurende vriendskapsbande met A.D. Keet. Theo het vertel van die probleme wat hulle saam te bowe moes kom. Albei was in 1917 in hul ontwikkelingsjare en het geskryf in 'n taal in sy vroeë wordingsjare wat nog nie eers as taal erkenning geniet het nie.

'n Paar van die vroegste gedigte van A.D. Keet word hier weergegee soos hulle in daardie jare verskyn het. Later is sommige in ietwat aangepaste vorm in sy bundel Gedigte (1920) gepubliseer. Die meeste is deur sy mentors afgekeur vir opname in die bundel. Weens oorsigtelike redes word 'n paar tog hier ingesluit. Hier volg die datums van publikasie en 'n paar ander besonderhede:

Al is ons nasie nog so klein Die Brandwag, 15 Mei 1914. Voorgedra op die vyfde Groot-Nederlandse Studentekongres te Gent, België, 4 tot 6 April 1914.

Engeland

“In 1915 gedurende die rebelliejare het ek hierdie versie geskryf.”[1]

Nie voorheen gepubliseer nie.

Die Verraaier

In manuskripvorm gevind saam met Engeland. Dateer waarskynlik van 1915. Nie voorheen gepubliseer nie.

Hollandsch-Zuid-Afrika
(Aan Koningin Wilhelmina)
De Toorts, 1917.
Briewe ontvang na aanleiding van hierdie gediggie:

Nr. 1522
Secretarie van H.M. de Koningin
's Gravenhage
1 September 1917

Hare Majesteit de Koningin heeft mij opgedragen den Heer A.. van Vespen Hoogstderzelver dank over te brengen voor het gedicht Aan Koningin Wilhelmina, door den Heer A.D. Keet vervaardigd.
De Particulier Secretaris
Van H.M. de Koningin

Amsterdam 11 Sep. 1917

Amice
Je gedicht op onze Koningin heb ik gelezen. In een betrekkelyk obscure kroeg te Gouda lag De Toorts op de leestafel. Zoo zie je, overal wordt je gelezen. Ik vond het gedichtje heel aardig, goed van toon en rhythme. Leef gelukkig.
(Handtekening onleesbaar)

'n Bossie Blomme

Propria Cures, 15 Desember 1917.

O, Nederland!

De Volksstem, 8 Februarie 1918. Nieuws uit Zuid-Afrika, 31 Januarie 1963. Byskrif: Bovenstaand gedicht is een voorbeeld van Zuid-Afrikaanse welwillendheid tidens de Eerste Wereldoorlog. Het gedicht werd door A.D.K. tijdens zijn verblijf in Nederland geschreven.

My African Farm

Univ. of Cape Town Ouarterly, Vol. 1, bll. 80-81, 1918. Byskrif van bibliotekaris: “The above verses are by a past student, A.D. Keet, now in Holland, and were forwarded by the Hon. W.P. Schreiner, High Commissioner for the Union of South Africa in London.” Lg. was die broer van Olive Schreiner, skryfster van The Story of an African Farm. Die gedig is waarskynlik na aanleiding van dié boek geskryf.

Die volgende gediggies, hoewel nie van die vroegste nie, het ontstaan n4 publikasie van die bundel. In persoonlike mededelings het die digter gesê hy beskou hulle in elk geval nie as geskik vir bundeling nie:

O, Heerlik

Nie voorheen gepubliseer nie.

Waar Bliksem Slaan

Die Nuwe Brandwag, Februarie 1929.

Corrie

Die Nuwe Brandwag, Augustus 1930.

Gedigte uit bundel #

Sommige van die gedigte in die bundel is vantevore ook elders gepubliseer, soos hieronder aangedui word. 'n Paar ander wetenswaardighede word ook genoem.

Kontras

Geskryf toe dit Kersfees was gedurende die Eerste Wêreldoorlog.[2]

Maar Een Suid-Afrika

Die Huisgenoot, Jun. 1917.

Amsterdam

Ik droeg mijn gedichtje Amsterdam op aan de Nederlandse schilder Eduard Karsen. Hij was de leermeester van Johanna Wassenaar, zuster van Theo.

In het Goois Nieuwsblad van Bussum, gedateerd 10 Juli laatstleden, is er een artikel door Willem Brandt waarbij hij schrijft: “Menigeen staat nog dat fijn pittoreske gedichtje over Amsterdam voor de geest, steevast in alle Nederlandse schoolbloemlezingen opgenomen waarin Keet (die hier toenmaals medicynen studeerde) de schoonheid onzer hoofdstad bezingt.”[3]

Eene meij. Louise Keet van Scheveningen schreef dat zij mijn gedichtje over Amsterdam ergens gelezen had en gezonden had aan twee van haar broers in Havana, Kuba, en aan zusters in Amsterdam en Brussel.

Nieuws uit Zuid-Afrika zond mij het Februari nummer met daarin het gedichtje Amsterdam. Daarin wordt beweerd dat Amsterdam en “Aan 'n Seepkissie”, van Louis Leipoldt, de bekendste Afrikaanse gedichten zijn in Nederland. Ik geloof het niet, hoor![4]

Enkele dagen geleden ontving ik Uw gewaardeerde brief en vlak daarvoor de pracht uitgave Een Lied voor Amsterdam. Voor beiden mijn hartelijksten dank.[5]

Ken u Een Lied voor Amsterdam (Gedichten over Amsterdam, byeengebracht door Bea E. Biet, Uitg. De Telg, 1946)? Dit is 'n versameling van 43 gedigte oor dié stad vanaf die tyd van Vondel. Die twee Afrikaanse gedigte daarin is van Leipoldt en Keet. In die voorwoord word gesê: “Machtig het lied dat Vondel ons gaf, speels de zang van Keet.”[6]

Wanneer U nu op een zomeravond door Amsterdam zou lopen, zou U naast de uitgetooide liggies ook mooie, met strijklicht verlichte gevels kunnen zien. Elke zomer van half Juni tot half September worden gevels langs de grachten van een deel van de binnenstad op deze wijze in het zonnetjie gezet, ten behoeve van de toeristen. Maar ook voor ons, Amsterdammers is't een mooi gezicht, het blijft een prachtstad.[7]

Muskietejag

Ek kan 'n plakboek vul met uitknipsels oor Muskietejag, wat jy ook so goed voorgedra het. Ek verstaan dat baie skoolkinders in Nederland dit ken uit bloemlesings. Dit is ook bekend onder swart skoolkinders hier.[8]

Blykbaar berus my hele reputasie as digter op Muskietejag. Toe ek in Pretoria was, het 'n jong kollega gevra vir 'n kopie vir die plakboek van sy geliefkoosde niggie! En verlede week toe ek een aand hier op die stoep heen en weer stap, verskyn daar twee taamlik “getrekte” rondlopers. Een begin toe Muskietejag voordra — seker 'n bietjie heuning om die mond met die oog op 'n stewige “bydrae”.

En verlede Sondagaand het Van Wyk Louw dit oor die radio laat voordra in sy program Vers en Gedagte.[9]

Modéste, meo amicissimo! Ek word vanaand hier, gesien die oop vensters vir die warmte, verpes deur vlieë, muggies en muskiete, en die vlieëslaner moet kort-kort ge- bruik word vir moorddadige aanvalle op die parasiete. Ofskoon my vrou se nooiensvan Van der Merwe is, myne is tog nie! Tog merkwaardig, nie waar nie, dat ek destyds in Amsterdam reeds met die Van der Merwes deurmekaar was![10]

Fanus Rautenbach besef seker dat hierdie Van der Merwe met sy muskiet nie betrekking het op 'n bepaalde persoon met daardie naam nie. In sy Grapboek sê hy dat Muskietejag die eerste Van der Merwe-grap is wat hy gehoor het. Volgens hom is Van der Merwe die Afrikaanse Uilspieël. Dit lyk net of hy dom is, maar hy kom die beste uit 'n situasie.[11]

Op ons reis terug van Stellenbosch met die Halfeeufeesviering van die Akademie het ons in dieselfde hotel te lande gekom as prof. en mev. Mêénnig. Sy was 'n Hollandse dame met die nooiensvan Koning en het my herinner aan 'n parodie op Muskietejag wat sy destyds as student in Amsterdam vir my gestuur het, nogal in goeie Afrikaans. Nog 'n Hollandse vriendin het 'n antwoord gestuur. Altwee gee die muskiet se standpunt en verweer. Amper pleit hulle soos Albert Schweitzer vir eerbied vir die lewe![12]

Hier volg nou een van die gediggies:

Opgedragen aan den Wel Edel Geboren Heer van der Merwe

Door B.M.C. Nolthenius, Haarlem

"IK, mugje, ben so vreeslik blj,
Dat ik weer lustig, vroolijk, vrij
    Kan vlieg naar alle streken,
En dat het boos, misdadig plan
Van jou, afgrijslijk wreede man,
    Zoo lekker is verkeken.

Jij schold mij uit voor vagebond En wat voor liefliks méér je mond Mij, arme, heeft verweten; Je wou met brute overmacht, Met sluwe list en menschenkracht Je met een mugje meten.

Nu weet ik wat voor man jij bent, En ken je streken, nare vent, Slaande met die muggenmepper; Als je me ziet op deur of ruit En jaagt me na … ik lach je uit: “Hád je me maar, opschepper!” ’t Mugje

I.v.m die bekamping van malaria in Zoeloeland wil ek graag vir u 'n wenk gee. Ons het nou rede om te glo dat groot hoeveelhede vitamiene B1 wat in pilvorm per mond gegee word, muskiete weghou.[13] Volgens 'n berig in The Star van 22 Junie 1970 het Oostenrykse wetenskaplikes ontdek dat 300 mg vit. B1 per dag 'n reuk in die vel laat ontstaan waarvan mense nie bewus is nie, maar wat muskiete totaal afweer. Die dosis is groter as wat die liggaam normaalweg nodig het. Hulle het 11 persone getoets vir wie muskiete baie lief was. Een het die pil gekry en die 10 ander nie. Ná twee uur was die gesigte, bene en hande van die 10 dik geswel van die muskietbyte, terwyl die pildrinker nie gebyt is nie.[14]

Rook

Propria Cures, 19 Oktober 1918.

Behalwe die gediggie in die bundel wat opgedra was aan een van my Afrikaanse vriende in Amsterdam, Frans Karel te Water Naudé, het rook ook sy verskyning gemaak in een van die Verspotfe Gediggies (“'Ek is moeg en sat van sigare”, bl. 267).

Ek kan nog nie glo nie dat ek al die 71ste mylpaal bereik het, en dit ten spyte van omtrent 40 sigarette per dag, sedert die jaar 1920! Dat ek nog nie “in rook opgegaan"” het nie, is 'n wonderwerk.[15]

Wegens de hart toestand rook ik nou niet meer. Het was mij altijd onmogelijk om iets (zelfs 'n brief) te schrijven, zonder 'n sigaret in de mond! Sigaren zijn hier te duur. Nu vind ik alles zo abnormaal — zoek zelfs onder het schrijven van deze brief telkens naar het doosje met 30 sigaretten![16]

Probleem

Jan Schutte het verlede Sondagaand die tweeweeklikse praatjie van Van Wyk Louw, wat nou so siek is, oor die radio voorgelees. Louw het gedigte van Leipoldt, Celliers (“Eensaamheid”) en Keet (Probleem) laat voorlees. Volgens hom is hulle goed, maar veels te langasemig. Hy het voorgestel waar hulle sou kon opgehou het, sonder nadeel. Probleem kon bv. met twee koeplette afgehandel gewees het. Maar soos dit vir my voorkom, sou die “probleem” in daardie geval geen probleem gewees het nie! 'n Alternatiewe titel het hy helaas vir sy amendement nie voorgestel nie.[17]

Ek Hou van Blou

Sê tog a.u.b. vir die jong adjudant wat die digter van bogenoemde wou ontmoet het, en wat u toe aan my voorgestel het: Amor est titillatio concomitante causa![18] Hy is seker verlief op 'n blouoognooi.[19]

Sonnedaal

Hollandsch Zuid-Afrika, 15 Junie 1918.

As Saans

Non Appena: Ek wil jou baie hartlik bedank vir die pragtige boekie met ltaliaanse vertalings van ons Afrikaanse digters se verse. Seer seker sal ek signor Prampolini van Spello, Perugia, Italië, bedank vir die boekie en sê dat jy dit aangestuur het.[20] At Night: Ek het vir “Jan Burger”, 'n rubriekskrywer van The Star, die Engelse vertaling van As Saans deur I.D. du Plessis gestuur.[21]

(Jare later het I.D. du P. gesê hy glo nie hy was die vertaler nie.[22])

Aandmymering

(Op die Stoep van 'n Boereplaas)

U hoorbeeld oor my oor die radio die aand van 16 deser word deur die bure geprys. Bly is ek dat u Aandmymering gekies het, liewer as die afgesaagde Muskietejag, vir een van die voordragte. En dan skryf Kas van den Bergh nog onlangs in Die Huisgenoot dat daar geen Afrikaanse gedigte bestaan nie oor die sterrehemel! Wat dan van “Sterlig Omsluit die Laer” (Jan Celliers) en “Vonkel, Sterretjie, Vonkel” van C. Louis Leipoldt?[23]

Twee bruin seuns het hier aangekom saam met 'n meubelwa vanaf Giekwastad. Hulle sê dat hulle 'n paar keer pak gekry het omdat hulle Aandmymering nie op skool goed “opgesê” het nie. Hulle sou baie dankbaar wees as hulle een van die blou boekies kon kry om by die onderwyser daarmee te gaan spog![24]

Klaas Vakie

Verzen voor Kinderen, Deel 1, bijeengebracht door J.A. Nijland, Uitg. L. J. Veen, Amsterdam, 1923.

Kinderlied

Die Brandwag, 15 Mei 1914.
Verzen voor Kinderen, Deel 1, bijeengebracht door J.A. Nijland. Uitg. L.J. Veen, Amsterdam, 1923.

Troos

Ongelukkig het ek A.G. Visser nooit ontmoet nie. Ons het baie waardering vir sy gedigte gehad, veral sy liefdesgedigte. Daar is rens gesê Keet se gedigte herinner aan Visser, maar daar moet onthou word dat sy bundels heelwat later gepubliseer is as my bundeltjie Gedigte. Ook van sy kinderverse het ons baie gehou, en jou ma kon haar lag nie hou nie vir die gomlastiekkalant met 'n stert aan elke kant, en vir ou veertien-voet-van-seerkeel-as-hy-keelseer-kry-giraf. lemand stuur aan ons toe die volgende aanvulling van Troos deur A.G.V. (daar is waarskynlik nog een of twee variasies):[25]

Troos
Aanvulling deur A.G. Visser

Moet tog nie glo dat Keet nie wis nie:
Daar's niks so glibberigs soos 'n vis nie!
Die visse word ook nie beangs nie —
Bewerk hul dan nie self die vangs nie?

Niks lyk so seker, niks gewisser As: visse-kennis het ’n visser. Maar weet hy ná sy eerste dwaling Of hy ’n aal het of ’n paling?

Die liewe goud- en silwervisse Gee duisende ontsteltenisse. Goudvissers vind gou wat die fout is: Dat goudvis self so lief vir goud is!

Die ingevoerde is gevaarlik: Dié soort aard mos hier beswaarlik — Dit leer ten minste die ervaring — Veral oorsese rooie haring.

Was van jaarvroeg af tot op hede ’n Visser met een vis tevrede? Is jy dan nog nie spesialis nie, Bemoei jou verder nie met vis nie!

Die saak bly vol van hindernisse Al is die see ook vol van visse. (P.S.) Ek staan oor Salomo verwonderd — Ek self besit ’n huisvrou honderd!

Die Advokaat en Sy Kiesers

Adv. C.R. Swart het aan my gesê dat hy in vroeër jare meermale Die Advokaat en Sy Kiesers geresiteer het by politieke vergaderings. Gister kom hier toe 'n mooi brief van hom met 'n paar versies wat hy bygevoeg het. Hy skryf: “Waar ek die verse deur die jare heen, selfs tot sowat vier jaar gelede by die polisievakansieoord aan die Suidkus voorgedra het, was dit my gebruik om die gehoor aan te spoor om die uitroepe te doen. My laaste vers, VIR J-O-U!, het altyd groot pret en geesdrif uitgelok. Hulle het my ge-encore!”

Terloops, toe my bundel gepubliseer moes word, het daar ook 'n koeplet gekom wat geëindig het met “Ou ram!” My kritikus E.C. Pienaar (toe nog student) het gesê die uitdrukking “ou ram” is te banaal! Ek wonder wat hy sou gesê het van die '“moderne” Afrikaanse poësie, waarin hulle vir niks stuit nie![26]

Hier volg nou die aanvullende versies van adv. Swart:

Die Advokaat en Sy Kiesers
Aanvulling deur pres. C.R. Swart

“Vir hul gemors is ons nou tam;
EK sal hul opdons en bydam —
As ek daar kom, slaan ek hul lam.”
    “Ou Ram!”

“Wie is die ander kandidaat? Teen my te veg, sal hom niks baat Ag nee, ou maat, jy’s ver te laat.” “V-r-y-s-t-a-a-t!”

“Op my beloftes kan jul bou, Wie vir my stem, kry nooit berou Ek vra: Vir wie stem julle nou?” “Vir J-O-U!”

Die Arme Digter

Propria Cures, 1 Desember 1917.

Wat nou u voorstel betref om Die Arme Digter te gebruik vir die faksimilee-afdruk in Die Tydskrif vir Letterkunde. Ek is bly dat u hou van die gediggie. Maar sal die lesers nie miskien dink nie dat daar so 'n tikkie selfbejammering agter skuil, veral omdat die artikel van die redaksie tog oor my sal gaan?[27]

(Hierop antwoord Gerhard Beukes: “Ek glo nie dat enige intelligente mens in Die Arme Digter selfbejammering sal kan lees nie. Dis tog baie duidelik dat dit universeel bedoel is, en die lot van alle kunstenaars is.”[28])

In 'n plakboek het ek 'n uitknipsel, jare gelde uit Die Volkstem. Hulle het my gediggie Die Arme Digter gepubliseer en daarby geskrywe dat Jan Celliers dit geskryf het “in 'n swaarmoedige oomblik”. Toe korrigeer Jan Celliers hulle en sê hy weet nie wie die skrywer is nie, maar dis nie hy nie! Persoonlik het ek al gewonder of hierdie gediggie nie 'n bietjie selfbejammering bevat nie. Maar Gerhard Beukes sê nee![29]

'n Sanger

Geskryf na aanleiding van Kloos, wat gesê het: “De mensch moet sterven eer de kunst'naar leeft.”[30]

The Makar Vertaling uit The New Makars, red. Tom Hubbard, Mercat Press, 1991, Edinburg.

Groot Suid-Afrika
De Toorts, 18 Augustus 1917.

U haal my gedig Groot Suid-Afrika aan in Die Huisgenoot van 8 deser, en vra wie die skrywer daarvan is. Die Vlaming proi. Modéêst Lauwerys het dit gereeld voorgedra soos net hy dit kon doen, op twee rondreise deur ons land omstreeks 1921 en 1926. Hy het dit deur die saal laat dawer. U skryf die gedig stem nogal tot nadenke.[31]

Die eerste minister se toespraak op Upington verlede maand oor die toekoms van die Oranjerivier, met die voorgestelde damme en besproeiingskemas, het my so 'n bietjie herinner aan die voorspellings in Groot Suid-Afrika. Miskien so 'n tikkie profeties, nie waar nie?[32]

Jammer dat jijj en ik niet de geweldige toekomst van Zuid-Afrika zullen beleven. Het potentiaal op allerlei gebied is groot, en ofschoon hier vele knappe kerels zijn op wetenschappelijke en andere gebieden — getuige de prestasie van Chris Barnard — is het jammer dat wij niet meer hulp krijgen uit Holland.[33]

Nie almal dink egter soos ek oor die toekoms van Suid- Afrika nie, soos blyk uit die volgende parodie wat op 9 Maart 1938 in Die Volksblad verskyn het:[34]

Droef Suid-Afrika

Met verontskuldiging aan A.D. Keet deur J. Mijburg, Indwe

Van waar Zambezi dreun
Tot Tafelberg se top,
Droef rys Suid-Afrika
Voor my verbeelding op.

Verdeel, verskeur sien ek My Afrikanervolk; Broers tart ou wapenbroers Met opgehewe dolk.

EK sien hoe duisende Deur armoed half-verslind, Die weg kies stede toe En ondergang daar vind.

Ek hoor die graaf- en pik- Geklink: sien stowwe staan Daar op die wapad waar My bloed wurg om bestaan.

Ons kerke sien ek leeg, Gods dag onteer, verag: My dierbaar volk se jeug Na vreemde sedes smag.

Ek hoor ons vlaktes sug, Waar soveel helde rus; Ek sien ons vryheid kwyn, Ons volk aan slaap gesus.

Pretoria

De Toorts, 9 Maart 1918.

Ek was lank laas in Pretoria en het my verbaas, toe ek verlede maand soontoe moes gaan vir 'n breukoperasie, hoe groot die stad geword het, en hoe Afrikaans! Toe ek die gedig oor Pretoria geskryf het, was sake anders. Hy vat vandag die voortou in baie opsigte, en dis nie meer nodig om te vra wanneer hy dit weer sal doen nie.[35]

Byna al die setels van Pretoria is vandag Nasionaal. Hoe anders was dit nie toe ek my gediggie Pretoria geskryf het, wat Die Transvaler van 6 deser aangehaal het, om te sê dat Pretoria nou die “allervoorste voortou” vat.[36]

Slagvaardig

De Toorts, 24 Augustus 1918.
Propria Cures, 4 September 1918.
Die Transvaler, 20 Desember 1961.

Verlede jaar (1960) het die kwekelinge van die Leërgimnasium onder leiding van Anna Neethling-Pohl hierdie gediggie by wyse van 'n spreekkoor voorgedra. Volgens Die Volksblad sou dit ook deur min. Dêénges aangehaal word in sy Nuwejaarsboodskap.[37]

Sing uit Jou lied

Hollandsch Zuid-Afrika, 15 Junie 1919.

Die Twee Boodskappers

Aangaande die ontstaan van Die Twee Boodskappers wil ek u tog een en ander vertel. Soos bo-aan die gedig in die bundel staan, het dr. W.]. Leyds (wat ek baie goed leer ken het in Holland) my die geskiedenis vertel van die foto wat geneem is by genl. De la Rey se laer. Hierdie foto het hy mooi geraam, en aan my en my oorlede vrou gegee as huweliksgeskenk in Holland. Dit staan ook afgedruk in die boek van genl. De la Rey se vrou: A Woman's Wanderings During the Anglo-Boer War.

Dr. Leyds het my gevra of die foto my dan nie kan inspireer nie om iets daaromtrent te skrywe, en ek het weke lank geprobeer, sonder resultaat. Op 'n goeie dag staan ek op 'n trem wat beweeg deur die drukke verkeer van 'n Amsterdamse straat, en daar kom die inspirasie én die hele konsep van die gedig! Op 'n koerant wat ek net gekoop het, skryf ek toe die eerste notas neer — en nadat dr. Leyds enkele wenke gegee het d.m.v. korrespondensie, was dit klaar.[38]

Op die foto, geneem deur 'n Fransman op die oorlogsveld by genl. De la Rey se laer, verskyn drie meisies met die vlae om hulle gedrapeer. Die middelste was 'n dogter van die generaal, later getroud met adv. Natie Ferreira, wat 'n adjudant van die generaal was. Hy het later as wewenaar hier op Senekal gewoon. Die twee ander dames se van was Bezuidenhout. Hulle was dogters van 'n suster van genl. De la Rey. Dr. Leyds het die foto gekry kort nê die Driejarige Oorlog en aan ons gegee in 1919.[39] Adv. C.R. Swart was hier op 'n offisiële besoek. Hy en ek is goeie vriende en ons het lekker gesels. Hy was by die onthulling van genl. De Wet se standbeeld in Bloemfontein en sê dit was die indrukwekkendste gebeurtenis wat hy nog ooit beleef het. My vroutjie, Rina, en ek het ingeluister na die verrigtinge. Die hartroerende toespraak van administrateur Fouché het my diep getref — só diep dat toe hy aanhaal van "“Keet se nooientjies” (uit Die Twee Boodskappers) ek my trane nie kon weerhou nie. Ek was so innig dankbaar dat ek ook darem op hierdie wyse iets kon bydra tot die huldiging van ons dierbare ou generaal.


Die twee boodskappers: genl. De la Rey se dogter (middel) met twee dames Bezuidenhoud weerskante van haar by die De la Rey-laer in Wes-Transvaal teen die einde van die ABO.

Né die Tweede Wêreldoorlog het Mazie Botha (aan my uit Humansdorp goed bekend, en getroud met prof. Bax van die Kaapse Universiteit) in Die Huisgenoot vertel van 'n Hollandse dame wat deur die Duitsers “ingekerker” was in 'n sel. Sy het op die mure van die sel met 'n skerp instrument uitgekrap wat adv. Fouché ook aangehaal het:

Vryheid! Vryheid! Dierbaar ding,
Waar elke mens na smag,
Van jou sal ek gedurig sing —
Jy is 'n volk se krag![40]

Verspotte Gediggies Vir Verspotte Kinders #

Wat betref Muskietejag — hierdie genre het ek voortgesit in die bundeltjie Verspotte Gediggies vir Verspotte Kinders. Dit is die eerste bundel nonsense verse (onsinrympies) wat in Afrikaans verskyn het. Helaas is dit na twee uitgawes nie weer herdruk nie, anders as die bundel Gedigte, wat ses uitgawes beleef het.[41]

Hoe het hulle ontstaan?

Die meeste van die Verspotte Gediggies het hulle ontstaan aan die etenstafel gehad. Ek onthou dit nog goed.[42] Ons het gewoonlik in die “brekfis”-kamer geëet, 'n klein kamertjie agter in die huis naby die kombuis. Aan tafel was Pappie, Mamnmie, Cobie (omtrent 3 jaar oud), Sussie, oftewel Lowna, (omtrent 6 jaar) en ek, Boetie (omtrent 9 jaar). Ons pa het gewoonlik eers 'n ruk aan tafel gesit voordat hy begin eet het. Hy het dit nodig gehad om tot verhaal te kom na die veeleisende werk in die spreekkamer. Dan het hy die sorge van die praktyk bietjie opsy geskuif en stadigaan ontspan.

Mammie het gesorg dat die kos opgeskep word. Hoewel sy OOK die hele dag pasiënte ondersoek het, het dit gelyk of sy nie So moeg was nie. Ons ouers het baie gehad om te bespreek, onder meer probleme in die praktyk, maar hulle het ook altyd na ons kinders se praatjies geluister. Dis seker daarom dat daar so 'n hegte band tussen ons en ons ouers was.

Etenstyd was die gesin se tyd. My twee susters was ware woelwaters, was maar altyd aan die gang en het baie gebabbel. Met sy kenmerkende glimlag en vonkel in die oog het Pappie alles gehoor. Hy het altyd die eienaardige in sinne en woorde opgemerk. As een van die kinders iets snaaks gesê het, sou hy dit onthou en mettertyd daarop uitbrei.

Sê nou!

Sussie sou byvoorbeeld aanhou met “sê nou”. Sê nou ek het 'n fiets gehad ... sê nou ek kon vlieg .. . sê nou dit of sê nou dat. Hy sou dan 'n verspotte wending aan die gedagte gee.

Destyds was daar nog perdestalle op die dorp en die meeste huise het maar 'n paar lastige brommers gehad. Dan kom die eerste sin: Sê nou ek lyk soos 'n brommer. Soms het hy nie te lekker gevoel ná al die werk nie: En sê nou ek voel maar vrot. Die kleinspan het baiekeer gesigte getrek: Sê nou my oë kyk soontoe, en sê nou my ore staan skeef. Daar is gevra: “Pappie, as die aarde rond is, hoekom val die klippers dan nie af nie?” Sê nou die aarde is bolrond, en sê nou die klippers val af. Meer as een ete was nodig om baie van die verspotte gediggies af te rond en te voltooi. Hy het seker smiddae in die ou Hupmobile op pad na plase in die distrik, en saans by sy lessenaar in die studeerkamer, wanneer hy met korrespondensie besig was, ook daaraan gedink.

Die Rooiversbul

Een van die dinge waaroor ons ouers aan tafel gepraat het, het ons Kinders ons ore laat spits. Daar was nog baie oud-stryders op die dorp en in die distrik, en die Anglo-Boereoorlog het Soms ter sprake gekom. 'n Naam wat ons nie kon uitspreek nie, was sir Redvers Buller: in die volksmond het hy die Rooiversbul geheet. Die naam en die hele kwessie was vir ons maar moeilik verstaanbaar en omdat dit nie verduidelik kon word nie, het dit tot 'n regte onsin-versie aanleiding gegee.

Hou jou hand voor jou mond

Hoeveel keer is dit nie aan tafel gesê nie, as jy gaap!

Ek wens ek was

Ek wens ek was 'n treindrywer .. . ek wens ek was al groot. Daar was nog baie tarentale in die distrik, en soms het ons pa op plaasritte sy haelgeweer saamgeneem: dan het ons vir 'n paar dae tarentaal geëet. Hy moes dikwels in Bidolfsberg (oftewel Biddulphsberg) se rigting ry, en ons het baie van die berg gehoor (daar was ook 'n veldslag in die Anglo-Boereoorlog). As Vrystaters het ons te veel kere pampoen, waarvan ons niks gehou het nie, aan tafel gekry. Ons kon darem getroos word met 'n grappie oor 'n groot pampoen wat sou rol van die Vrystaat tot in die see. Dit sou regtig snaaks wees om die kleingoed te sien spat as 'n skreeuende krokodil oor hulle stat spring! Dan het 'n mens sommer die pampoen ook vergeet.

Die vyfbene-koei

Afrikaanse liedjies was maar skaars in daardie dae. Ons het baiekeer “Die Vierperdewa” gesing, maar kon nie verstaan hoekom soms van 'n vyfde wiel aan die wa gepraat is nie. Hoe sou so 'n wa lyk? As jy 'n vyfbene-koei gehad het, kon jy dáároor dink en die wa vergeet.

Hier kiep-kiep

Net 'n onsin-versie by 'n kinderspeletjie.

Bobbejaan op die paal

Geskryf na aanleiding van D.C. Boonzaier se beroemde spotprent van 'n gekettingde bobbejaan bo-op 'n paal. Dit het in koerante van die Nasionale Party verskyn en het die “verhoogde status” voorgestel wat ons regering vir die Unie van Suid- Afrika in Londen beding het, en vasgelê is in die Statuut van Westminster in 1931. Nasionale parlementslede het daarmee die spot gedryf omdat beweer is dat dit volle onafhanklikheid aan die Unie gee; in werklikheid was die Unie nog net so gekoppel aan die Britse Ryk soos vantevore.

In die jaar 1910

Ons ouers het Halley se komeet in 1910 gesien. Volgens alle vertellings was dit 'n buitengewone skouspel met 'n ligstert wat halfpad oor die lugruim gestrek het. So iets was moeilik om te beskryf en nog moeiliker om te verstaan. Dat iets angswekkends in 1910 wel gesien is, was nie te betwyfel nie, hoewel sake 'n bietjie anders verloop het as in die werklikheid. Dit was nie 'n spook nie, wat boertabak rook nie, en dit was ook nie ou Katrien. Ek skeur toe die wêreld (miskien soos die komeet die hemelruim geskeur het?) met my voorkop bepêreld (van die sweet) en skree net: Pasopl Pasop!

Trippe-trappe-trone

Hierdie een kom ver uit die verlede, maar het seker 'n lessie vir toekomstige “Afrikaner-sone” gehad.

Kom ons gaan bokke skiet

Maatjies het altyd vertel hoe hard 'n geweer kon skop. “Mapstieks” is af en toe gehoor. “Magtag” was destyds verbode!

Toe ek nog jonk was

Van maatjies het ons geleer hoe om hoenders te vang. Jy bind 'n mieliepit voor aan 'n lang garingdraad en gooi dit in die agterplaas van die bure. Die hoender sluk die mieliepit in en jy het hom! Oom Gert Viljoen was 'n bekende en gesiene inwoner, die grofsmid op die dorp.

Die maan is 'n kwaai ou kêrel

Ai, daardie volmaan! Hoe dikwels het ons nie almal op 'n stil aand op die stoep gesit en na die maan gekyk nie. “Mammie, is daar 'n man in die maan? Kan 'n mens sy gesig sien? Lyk hy net so in Amsterdam?” Die bull het in later jare 'n kwaai ou “boel” geword. Dit was ook die tyd toe ons nog ge-smile en nie geglimlag het nie.

Baie jare later het dr. Jan Bouws, wat ook van Amsterdam gekom het, Die Maan getoonset.

As ek my nie vergis

So het ons mekaar maar altyd geterg. BL (Bella Laubscher) se tekeninge op die swartbord is net soos dié wat ons altyd in ons klasboeke gemaak het.

Kindertaal

Alte waar.

Laaste nag het ek gedroom

Aan tafel is baiekeer drome vertel. Die Vrystaat se mense het graag familiebande uitgepluis. Die “rot” het destyds nog uit Engels gekom.

My magie is so eina

Daardie maagkrampies is seer!

Miesies So-en-so

Die pa-dokter en ma-dokter het oor hul pasiënte gepraat, en klein oortjies het hier en daar iets opgevang. “Wat sê Mammie? Wie is dit? Wat makeer sy?” Dis Mrs. So-en-so (selfs “mevrou” is toe maar selde gehoor). Wil jy glo, sy val die trap af tot daarbo! Die Senekal-huis het 'n groot houttrap na die boonste slaapkamers gehad. Mrs. So-en-so het 'n instelling geword en nuuskierige agies moes maar daarmee vir lief neem.

Ek hou van 'n vrou

Met soveel gediggies in omloop moes Jan Celliers se brawe man dit ongelukkig ook ontgeld.

Aits, hoe swaai sy

Marietjie Steyn was 'n nooientjie fyn van Senekal.

Ag siestog, foei hoe liefies

Hierdie een het later die titel Bakvissie gekry.

Kom ek wed jou

'n Vertoning by een van die bure. Dit begin nogal jonk!

Haai, nee, raai, arrie

Daardie lagbuie!

Bimbamboela

Word uitgespreek “Biembamboela”. Anders as die meeste menere het ons pa sigarette van slegs Turkse tabak gerook. Die kafee om die hoek het dit spesiaal vir hom bestel en ons moes dit altyd gaan koop. Dit was Abdoella-sigarette, verpak in ronde blikkies met 'n veelkleurige prentjie van 'n Arabier met 'n tulband om sy kop. “Pappie, wat beteken “Abdoella'? Wat se snaakse naam is dit?” Dit was moeilik om uit te spreek, maar die nuwe woord “Biembamboela” was makliker. Ons moes hoor dat ander tale soos Zoeloe ook snaakse woorde in het. So het daar 'n paar “Zoeloe-neologismes” bygekom. Daarvandaan het die verspotte gediggie sy eie verloop geneem. Jare later het Johan van Rensburg dit getoonset en Bimbamboela is met oorgawe deur die Alabama-studentegeselskap van Potchefstroom gesing.

Ingesluit is 'n brief van Dirk Opperman. Soos jy sien, is die onderwyseresse in die Boland baie gevoelig vir “plat” uitdrukkings soos “smoelah”, en stel hy voor dat dit verander word voor publikasie in sy bloemlesing. Blykbaar is hulle nie gevoelig vir veel growwer woorde in sekere van die jongste publikasies nie. As dit moet verander word, sou ek voorstel “Jy moet toelah”. Ek sê dit dikwels vir my Basotho-pasiëntjies wat skrik en huil wanneer hulle ondersoek moet word.[43]

Hispanjos

Ons het gevra waarom die woorddele “os” en “jos” so baie in Spaans voorkom. Wat die aanleiding daartoe was, kan ek nie goed onthou nie. Miskien was dit omdat ons oom Jan van der Poll na die Spaanssprekende Buenos Aires verhuis het.

In die Land van Marmelade

Ons pa het altyd marmelade by sy ontbyt geëet. Vir ons was dit gans te bitter en ons kon nie verstaan hoekom hy daarvan gehou het nie. Hy het dikwels gepraat van die jeremiades wat hy moes aanhoor van mense wat nie regtig siek was nie. Sommige het help-my-druppels gedrink. Die jakkalsdrade langs die paaie in die Karoo waarmee ons gery het op pad see toe, was vir ons snaaks; in die Vrystaat was daar net doringdraad Op die plase. Hy het baie skade in die praktyk gely weens die Depressie (en miskien ook weens die boererate).

Dinges

Dit is 'n woord wat baie deur ons dinges, ek bedoel ons kinders, gebruik is.

Vrouens, menere

Ons pa het nie daarvan gehou om voor 'n gehoor te praat nie. Die enkele kere wat hy gevra was, het dit hom baie gepla, soos ons aan tafel agtergekom het.

Likkewaanvere

Wat, wou ons weet, is 'n likkewaan? Is hulle baie skaars?

Ek is moeg en sat van sigare

Pappie het baie sigarette gerook (maar, soos hy altyd gesê het, nooit die rook ingeasem nie). Mammie het gesê sy laat hom maar begaan, omdat dit die enigste afleiding was wat hy gehad het. Onderwysers het destyds skoolseuns wat rook, uitgeruik en gestraf.

Ek ken 'n klein ou seuntjie

So was dit.

Myne here van die kommissie

Ons pa was 'n tyd lank lid van die stadsraad en het in kommissies gedien. Hy het gekla oor al die tyd wat dit in beslag neem en kon dit nie volhou nie.

Klinge-klonge-klange

Die waarheid. Mnr. J.H. de Lange, 'n beroemde orrelis van Senekal, en sy eggenote was huisvriende van ons ouers. In die kerk het hy dikwels ongeduldig geword as die gemeente so agterbly of “trek” met die sing van psalms en gesange. Soms het hy opgehou speel en tydgehou deur hard hande te klap om die gemeente bietjie aan te jaag. Sy bloeddruk het ongetwyfeld baie gestyg onder sulke omstandighede. Ten spyte van gesigsgestremdheid was hy 'n man vol welwillendheid en humor. Sy dawerende lag kon dikwels gehoor word wanneer hy oor die kerkplein stap. Hy en sy eggenote was ook musiekonderwysers; wanneer die eksterne eksaminatore opgedaag het, was dit 'n spanningsvolle tyd.

Eilasie

Longontsteking of inflammasie was destyds 'n probleem sover dit behandeling betref en was dikwels ter sprake.

Die lug is bewolk

Elke dag steek die wolke op. As dit maar net wou reën in die Vrystaat!

Van Putsonderwater tot Soebatsfontein

Aardrykskunde het ons verplig om in die aande plekke in die atlas op te soek. So het ons toevallig op Putsonderwater afgekom. “Pappie, hoe kan 'n put nou sonder water wees? Wat se snaakse naam is dit?2” Oor daardie naam is baie gepraat. Hy het later self na die kaart gekyk. Daar was nog ander snaakse, of sal ons sê ongewone, skilderagtige en beskrywende name, soos Soebatsfontein. Al hierdie plekke was in die warm, droë, noordweste van die Kaapprovinsie. Maar wat is OOK daar naby? 'n Groot rivier, die Oranje. En wie woon daar oorkant? 'n Duitse oom in Suidwes wat verlang na sy land, “Die Land van die Bier”. Bella Laubscher het gesorg dat hy darem 'n Dachshund by hom het.

Die tee is nie so lekker nie

Ons kinders kon nooit verstaan wat die chicory (oftewel sigorei) op die koffieblik beteken het nie. Op die dorp en in die distrik was daar heelwat goeie vriende met die van “Bekker”. “Mrs. Hiccory” was 'n nuutskepping ter wille van die rym — dit is mos 'n onsin-versie, of hoe? Ook verskil die ritme bokant haar Kop van dié onder die tafel.

Deuntjie

Meraaie het maar baiekeer raas gekry.

Oom Kalie

Wat beteken “rondomtalie”?

So ry die boere

Hulle was almal vriende van ons ouers. Oom Piet Joubert was 'n prokureur op die dorp; neef Flippie van Rooyen en oom Cornelis Rautenbach was boere. Ongelukkig is daardie motors vandag nie meer bekend nie.

Van tyd tot tyd is die Verspotte Gediggies wat voltooi is, na meij. Bella Laubscher (later mev. Traas) op Graaff-Reinet gestuur. Volgens voorstelle van ons ouers het sy die pentekeninge gemaak. Sy het ook die sierskrif en bladuitleg versorg. Ons ouers was gewoonlik baie in hul skik daarmee en in net 'n paar gevalle is geringe veranderings voorgestel.

In Memoriam #

Die volgende twee In Memoriam-gedigte is nie voorheen gepubliseer nie:

Sterwensuur

Hulle het ons in die nag kom haal om na Mammie se kamer te gaan.[44] Cobie was 5 jaar oud, Sussie 8 en ek 11. Toe ons daar kom, was Pappie by die bed. Mammie het skuins teen die kussings gelê. Sy was baie bleek. Bloed het by haar neus en mond uitgekom. Sy het niks gesê nie, maar met 'n vinger na haar mond gewys. Pappie het langs haar gaan sit en haar in sy arms geneem. Die bloed het op sy hande en klere gekom.

Ons drie het haar een vir een op die voorkop gesoen.

Later die nag toe ons weer op die boonste verdieping was, het iemand haar trouring vir Pappie gebring.

'n Kleine Ding

In Goethe se gedig “Grenzen der Menschheit” kom die volgende twee reëls in die laaste strofe voor:

“Ein kleiner Ring
Begrenzt unser Leben”
Dit is moontlik dat 'n Kleine Ding daardeur geinspireer is. Andersins is daar geen merkbare verband tussen laasgenoemde en “Grenzen der Menschheit” nie.[45]

Die volgende drie In Memoriam-gedigte is in Die Huisgenoot van 1 Desember 1933 gepubliseer: Vergeef My Dit
Nou Is Sy Weg
Haar Rusplaas

Weemoed

Ek wil u verwys na Digters van Dertig, uitgawe van 1953, bladsy 188, waar Dirk Opperman dit het oor die woord “skreeu"” in Van Wyk Louw se gedigte, en my “uitgil” in die gediggie Weemoed. Nou wonder 'n mens of Dirk al ooit ondervind het hoe 'n mens voel nê die verlies van 'n onmisbare dierbare. Indien wel, dan sal hy ook skreeu en gil in sy verlatenheid.

Toe my broer B.B. en wyle Totius besig was met die Bybelvertaling in Afrikaans, het Totius hom kom vertel hoe hy van die gediggie hou. En Totius kon meevoel, want hy het ook deur diep waters gegaan.[46]

O, Ken Jy die Gebed

'n Man moet eers 'n wewenaar word, met 'n paar klein kindertjies om voor te sorg, om daardie verlatenheid te besef en te voel! Een van die weinige kere wat my oorlede vrou gehuil het tydens haar siekte, die hopelose aard waarvan sy bewus was, was eendag toe sy gesê het: “Ek wil so graag nog net 'n rukkie by julle bly.”

Sy het gely aan 'n kwaadaardige gewas (sarcoma) van die kliere tussen die longe. Dit het 18 maande lank 'n swaar lyding en pyn veroorsaak.[47]

U sal verstaan wat ek meer as drie jaar lank moes deurworstel ná my oorlede vrou se heengaan.[48]

Ek dink die hele dag aan julle mammie — haar sterfdag. Ek het nooit haar naambordjie van die huis en die praktyk laat verwyder nie.[49]

Vertwyfeling #

Snags op Straat

Helikon, 31 Oktober 1953.

Die Leerling-skepper

Die Huisgenoot, 7 Julie 1939.

Berou

Jaarboek, Afrikaanse Skrywerskring, 1941.

Aan die Kruis

Die Huisgenoot, 1 Desember 1939.

Varia #

Moeder

Mother, vertaling deur A.J.B. (waarskynlik Arthur J. Barlow) in 'n artikel, “The Soul of Afrikaans poetry”, in The Sunday Express, 11 Desember 1938.

Geluk

Helikon, 31 Oktober 1953.

Ter verduideliking wil ek net meld dat die geluk wat prof. H.W. Snyman (in Geneeskunde, vol. 10, 1968) sê my ontwyk het, nie gaan oor my latere huislike lewe nie. Soos jy weet, is Rina en ek nou al jare gelukkig getroud en is ons ook baie gelukkig met die “na-oes” van drie pragtige dogters. Die gedig was feitlik 'n noodkreet oor ons moderne Afrikaanse poësie, wat so weinig genot verskaf oor die natuur, die liefde, ens. Vandaar: “Wie sal vir my kom sing?” Die naam “Geluk” het ek op 'n plaashek gesien op pad na 'n pasiënt en dit het my aan die dink gesit.[50]

Nee!

Opgedra aan dr. W.J. Leyds
Die Huisgenoot, 28 April 1939.

Ons, Afrikaners

Jaarblad, Hoërskool Salomon Senekal, Viljoenskroon, 1959.

Die Baarde

Gedenkboek van die Ossewatrek, opsteller: Dirk Mostert, uitgewer: Nasionale Pers, 1940, bl. 104.

Some Fashions

Jaarblad, Hoërskool Paul Erasmus, Senekal, 1969.
Die Beeld, 8 Maart 1970.
Ingesluit, moenie lag nie, 'n poging in Engels wat ek vir ons dogter Rosa (tans social editress van The Friend) aanmekaargetimmer het.[51]

Forgotten Memories

Vir Ellen Keet. “Put on Your Tiny Littie Tatters” was die titel van 'n liedjie.

Ode to a Beautiful Girl

Spoonerism, oftewel grapperige omsetting.

Klein Swart Kindjie

Op versoek gestuur aan J. Kromhout sr., Graskop, Oos-Transvaal, op 22 Januarie 1951.

Jy Het Diamante en Pêrels

Jaarblad, Hoërskool Paul Erasmus, Senekal, 1958.
Vrye vertaling van “Du hast Diamanten und Perlen” van Heinrich Heine. (Die Heinrich-Heine-Institut, Bilkerstrasse 12- 14, 40213 Disseldorf, Duitsland, vra dat Afrikaanse vertalings van sy gedigte daarheen gestuur moet word vir sy argief.)

“Dichter sind Lügner”

Nie voorheen gepubliseer nie. Ten spyte van navrae in Suid- Afrika en Duitsland kon die oorspronklike gedig en die naam van die digter nie opgespoor word nie. Daar is wel vermeld dat Plato (429-347 v.C.) reeds gesê het digters is leuenaars.

Bepeinsings #

Daar Is Soveel

Verlede Saterdagnag 'n wonderlike ondervinding gehad. 'n Hele gediggie het te voorskyn gekom, maar die hele Sondag het ek gesukkel om dit te onthou. Dit wou net nie terugkom nie. Sondagnag kom dit toe weer uit die bloute, laat ons maar sê uit die onderbewussyn! Ek gee dit vir wat dit werd is. Moet dit tog nie vir die kritici en moderne resensente gee nie — hulle sal dit stukkend skeur. En miskien nog tereg ook ... [52]

Oor die Smerige Soort

Jaarblad, Hoërskool Paul Erasmus, Senekal, 1967.

Daar's Geen Lawwe Gedigte

Na aanleiding van 'n uitlating van Kas van den Bergh in Die Huisgenoot, 20 Februarie 1979.

Deftige Toespraak

Ingesluit 'n parodie op sommige van ons boere wat op vergaderings so graag sê: “Ek praat onder korreksie.”[53]

Verwysings #

  1. Brief aan C.R. Swart, 1.6.1967.

  2. Brief aan A.D.K. II, 20.12.1951.

  3. Brief aan Lak van der Poll, Den Haag, 19.11.1970.

  4. Brief aan Lobry de Bruijn, Den Haag, 17.3.1969.

  5. Brief aan A. Swets, Amsterdam, 20.7.1947.

  6. Brief aan mev. Gideonse, Amsterdam, 16.6.1968.

  7. Brief aan R.J. Swets, Amsterdam, 24.6.1964.

  8. Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 15.8.1963.

  9. Brief aan A.D.K. II, 13.2.1963.

  10. Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 20.12.1962

  11. Brief aan A.D.K. II, 13.2.1963.

  12. Brief aan P.J. Nienaber, 27.8.1959.

  13. Brief aan A.L. Ferguson, 22.2.1953.

  14. Brief aan A.D.K. II, 21.7.1970.

  15. Brief aan P.J.Nienaber, 19.10.1959.

  16. Brief aan Loon van der Poll,Den Haag, 19.11.1970.

  17. Brief aan Lowna Beyers,27.9.1962.

  18. Amor est titillatio concomitante causa: Die liefde is 'n prikkeling as die geleentheid daar is.

  19. Brief aan C.R. Swart, 22.9.1963.

  20. Brief aan D.J.Opperman,4.7.1960.

  21. BRief aan A.D.K. II, 25.4.1957.

  22. Mededeling aan A.D.K. II.

  23. Brief aan F. Oosthuizen, 23.1.1969.

  24. Brief aan ModéstLauwerys,Antwerpen, 13.11.1962.

  25. Brief aan A.D.K. II, 16.8.1962.

  26. Brief aan A.D.K. II, 30.3.1962.

  27. Brief aan G .Beukes, 4.6.1968.

  28. Brief van G. Beukes, 4.6.1968.

  29. Brief aan F. Oosthuizen, 23.1.1969.

  30. Keet, A.D., in Jonger Skrywers oor Eie Werk.

  31. Brief aan mev. H. Snyman, 18.2.1963.

  32. Brief aan P.J. Nienaber, 2.5.1956.

  33. Brief aan Lobry de Bruijn, Den Haag, 27.3.1968.

  34. Brief aan A.D.K. II, 16.9.1948.

  35. Brief aan P.J. Nienaber, 2.5.1965.

  36. Brief aan Modeést Lauwerys, Antwerpen, 16.10.1960.

  37. Brief aan G.D. Scholtz, 30.12.1961.

  38. Brief aan J.J. Fouché, 11.10.1954.

  39. Brief aan C. de Jong, 23.3.1969.

  40. Brief aan P.J. Nienaber, 10.10.1954.

  41. Brief aan “Jan Burger”, The Star, 10.2.1956.

  42. Herinnerings van A.D.K. II.

  43. Brief aan P.J. Nienaber, 19.12.1955.

  44. Herinnerings van A.D.K. II.

  45. Idem.

  46. Brief aan G. Beukes, 4.6.1968.

  47. Brief aan M.P.O. Burgers, 8.9.1959.

  48. Brief aan Anna Neethling-Pohl, 18.9.1959.